Verwelkoming en Doel

Posted by on in Verwelkoming en Doel
  • Font size: Larger Smaller
  • Hits: 203
  • 0 Comments
  • Print

'n Oorwinnaarsgroete vir julle en welkom by die nuwe "Soul'd Out"!

Daar lê opwindende tye voor en 'n reis wat mense se lewens vir ewig sal verander soos wat hulle almeer, deur die Woord en Gees, na die beeld van Christus gevorm word en gelei word na ware, intieme, en opregte aanbidding en verheerliking van God ons Vader.

Dit som die uiteindelike doel van hierdie bediening op. Ja, ons mikpunt met hierdie blog is om almal weereens daaraan te herinner dat daar hoop is.

Daar is hope en hope en hope hoop vir almal!

Maak nie saak wie jy is of waarvandaan jy kom, of hoe groot, klein, oud, nuut, diep of vlak jou probleme okal mag wees nie, daar is hoop vir jou! Kyk wat word vir ons belowe in die Woord van ons Here Jesus: "Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan." (1 Kor 10:13)

Daar is niks wat jou oorkom het wat nie, deur die krag van Christus (Fil 4:13) waarin ons staan, oorkom kan word nie. Watter onsettende vertroosting! Al voel jy vas, al sien jy nie nou die lig aan die einde van die diep donker tonnel nie, daar is hoop, en daar is uitkoms!

Ons het ook nog 'n ander baie belangrike belofte wat in 2 Tim 3:17 vir ons opgeteken is. Eers word dit in vers 16 duidelik gemaak dat die hele Skrif deur God geïnspireer is en wat die waarde daarvan vir ons is. Maar in vers 17 vind ons iets wat ons so baiekeer mis kyk, maar kom ek haal van vers 16 af aan, want dit is een sin: "Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk."

Besef julle wat dit beteken? Dit beteken dat die antwoorde vir ons probleme, en die weg uit beproewings en versoekinge in God se geïnspireerde Skrif vir ons gegee word. Niks anders as die Skrif is nodig nie, ons moet net die Skrif deeglik ondersoek en probeer kyk wat dit oor die spesifieke probleme (of dalk liewer 'beproewings' of 'versoekings') in ons lewe sê. Aan die einde van 1 Kor 10:13 het Hy ook belowe dat Hy die uitkoms gee, en dit is juis in en deur die Skrif waar ons die rigtingwysers na daardie beloofde uitkoms sal vind.

En dit is wat ons graag hier wil doen, ons wil die waarhede oor allerande onderwerpe vanuit die Skrif uitlig, verduidelik wat die Skrif daaroor sê, wys dat daar hoop is, en dan die lig van Skrif op die weg uit laat skyn.

Mens besef natuurlik baie vinnig dat hierdie kort artikels nie naastenby enige onderwerp ten volle kan verduidelik nie, en ook nie elke persoon se unieke stryd en beproewings in ag kan neem en die unieke toerusting daarvoor kan gee nie.

En daarom nooi ons jou uit om ook met ons te kom gesels. Ons wil graag 'n pad saam met jou, as unieke individu, stap en jou deur die Skrif na die oplossings vir die stryd en beproewings in jou lewe lei. Want in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het!

In die liefde van Christus, gegroet!

Twitter Facebook          Facebook small

0

Jacques Prince is tans die leraar van die Gemeente van De Deur. Sy roeping en passie is om mense, deur die beproewings en versoekinge in hulle lewens, na die voete van Christus te lei deur Sy Woord. Hy is getroud met die pragtige Sonet, en is Pa van 3 dogters, Charissa (9), Sonja (2) en Jana (pas gebore).

Comments

  • No comments made yet. Be the first to submit a comment

Leave your comment

Guest Monday, 27 March 2017