Huwelik en Gesin

Posted by on in Huwelik en Gesin

In God se ontwerp vir die huwelik is daar ‘n fundamentele beginsel wat baie maklik versuim word. Dit is die beginsel van “verlaat”. Genesis 2:24, die teks wat God se ontwerp vir die huwelik vir ons opsom sê: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees”. Ons besef natuurlik dat die beginsel ook geld vir die vrou, net soos wat die man sy ouerhuis moet verlaat en sy vrou aankleef, so moet die vrou ook haar ouerhuis verlaat en haar man aankleef.

 

Maar hierdie “verlaat” beginsel, alhoewel dit so fundamenteel is, is ook baie moeilik om te verstaan en toe te pas. Wat behels sit nou werklik? Beteken dit dat ons eenvoudig op ‘n ander plek gaan bly? Beteken dit dat ons nooit weer met ons ouers kontak het nie? Die kort antwoord op daardie vrae is nee. Natuurlik behoort daar steeds ‘n verhouding tussen getroude ‘kinders’ en hulle ouers te wees (die vyfde gebod geld nogsteeds) en om geografies weg te trek beteken ook nie noodwendig dat mens werklik verlaat het nie, terwyl sommiges geografies steeds baie naby aan hulle ouers woon (soms selfs in die selfde huis – alhoewel, behalwe in uiterste gevalle, dit nie aanbeveel word nie, veral vir jong getroudes) en heeltemal die beginsel van verlaat toepas.

 

Om so bietjie meer duidelikheid (natuurlik kan die onderwerp nie naastenby hier uitgeput word nie) op hierdie onderwerp te bring, kom ons kyk net na vyf punte wat hierdie verlaat beginsel baie kortliks opsom:

 

      I.         Om te verlaat beteken dat jy ophou om jou ouers altyd as die maatstaf te gebruik. Die hele idee van, my ma het dit so gedoen, of my pa het dit so gedoen, daarom moet ons dit ook so doen. Dit werk nie so nie. Nou jy kan natuurlik van jou ouers leer, maar jou man of jou vrou kan dinge op 'n ander manier doen wat nie noodwendig verkeerd is, net omdat dit anders is as jou ouers se manier van doen is nie. As jy die heeltyd jou ouers as die maatstaf of standaard gebruik, beteken dit jy het nie werklik verlaat nie.

 

     II.         Om te verlaat beteken dat jy jou eie besluite neem. Met ander woorde jy is nie meer afhanklik van jou ouers vir besluite nie. Jy en jou vrou vorm 'n hele nuwe eenheid wat julle eie besluite in onafhanklikheid moet neem. Nou weereens beteken dit nie dat advies nie van ons ouers gevra kan word, en dat advies van ouers nie aanvaar mag word nie. Nee, net soos wat jy by allerhande ander mense advies kan kry so kan jy dit ook van jou ouers af kry. Moses het die advies van sy skoonpa Jetro hoog op die prys gestel en dit aanvaar en so kan 'n getroude paar ook nogsteeds doen.

Maar julle moet julle eie besluite neem en self verantwoordelikheid daarvoor neem. Jy kan nie vir elke dingetjie na jou ouers toe hardloop sodat hulle die besluite vir jou neem nie. As jy dit doen beteken dit jy het nie verlaat nie.

 

    III.         Om te verlaat, beteken ook dat jou ouers nie meer jou hoof vertrouelinge is nie. Wanneer jy deur 'n moeilike tyd gaan of sukkel met iets, moenie na jou ouers toe hardloop nie. Jy gaan eers na jou man of jou vrou toe, jy praat eers met hom of haar en julle probeer dit as eenheid oplos. Jou man of vrou se skouer is die een waarop jy steun, nie meer jou ouers nie.

 

   IV.         Gekoppel aan punt drie is dat verlaat ook beteken dat jy minder kontak met jou ouers gaan hê. Nee jy hoef nie (en behoort nie) jou ma en pa elke dag te bel nie, jy hoef (en behoort nie) hulle nie ten minste eenkeer 'n week te sien nie. Ek praat nie van gevalle waar ouers ernstig siek is sodat hulle versorging nodig het nie, julle verstaan dit. As jy so in aanhoudende kontak met jou ouers is, is iets fout, dit beteken jy het nie verlaat nie. Verlaat jou vader en moeder en kleef jou vrou of man aan!

 

     V.         Om te verlaat beteken jy is finansiële onafhanklik. Julle het 'n nuwe eenheid gevorm, 'n eenheid wat op sy eie moet staan, ook finansieel. Dit is 'n baie gevaarlike situasie om finansieel afhanklik van jou ouers te wees. Sommige ouers doen dit opsetlik, hulle hou hulle kinders afhanklik, net sodat hulle kinders in nabye kontak met hulle moet bly, sodat hulle 'n houvas op hulle kinders kan kry.

 

Sommiges doen dit nie met opset nie, maar dit is net so skadelik, want die nuwe egpaar moet op hulle eie voete kan staan. Om finansieel afhanklik te bly van ouers beteken jy het nie verlaat en 'n nuwe eenheid gevorm nie, dit beteken jy is verdeeld, jy staan nog met een voet in jou ouerhuis.

 

Hierdie is so ‘n paar dinge waarna jy na moet kyk en in ag moet neem sodat jy jou ouerhuis werklik verlaat. Ondersoek jouself en jou eie huwelik en maak seker dat jy verlaat het. As jy vind dat daar in jou huwelik 'n probleem is in hierdie aspek, asseblief moenie dink dit gaan oor tyd net wegraak nie, dit raak eintlik oor tyd net erger. So werk so gou moontlik aan 'n oplossing, praat met julle ouers daaroor en laat hulle verstaan hoe dinge moet verander.

 

Moenie toelaat dat hulle jou dreig met allerhande goed soos "ek gaan jou onterf nie", as jy dit toelaat en jy deins terug as gevolg van hulle dreigement is dit net nog 'n manier waarop jy nie verlaat het nie. En net terloops, dit is baie beter om jou erfporsie te verloor as om jou huwelik te verloor. Om te verlaat is 'n baie baie noodsaaklike en basiese beginsel van die huwelik. Waar ordentlik verlaat is, is dit baie makliker om die prioriteit van die huwelik te handhaaf, maar waar nie verlaat is nie, is daar altyd verdeelde prioriteite.

 

In die liefde van Christus, gegroet!

 

b2ap3_thumbnail_Two-become-one.jpg

Hits: 369
0

In 'n vorige artikel het ons na die prioriteit van die huwelik bo alle ander verhoudings gekyk. Maar natuurlik, soos met byna alles anders in die lewe, is daar altyd struikelblokke wat die prioriteite in ons lewens omkrap. Die huwelik is geen uitsondering hierop nie, inteendeel een van die sterkste aanvalle teen die huwelik vandag (deur die wêreld, die satan, en ons sondige vlees) is om die prioriteit van die huwelik af te breek, of om die huwelik as minder belangrik te laat lyk as wat dit werklik is.

Vir die vyand om dit reg te kry word daar so paar struikelblokke, of hindernisse, voor ons gegooi om hierdie prioriteit in ons lewe te belemmer. Nou daar is 'n hele klomp hindernisse wat genoem kan word, maar ons gaan ons hier beperk tot die vernaamste struikelblokke.

1. Die eerste hiervan is wanneer die man of vrou versuim om sy of haar ouerhuis ordentlik te verlaat (Gen 2:24). Nou hierdie is een van die moeilikste konsepte om te verstaan, want 'verlaat' beteken nie dat jy absoluut geen verhouding meer met jou ouers of skoonouers mag hê nie. Daar word nie van ons vereis om heeltemal elke band met ons ouers te verbreek nie, inteendeel, die opdrag van Rom 12 staan steeds dat ons, sovêr moontlik, in vrede met alle mense moet lewe, en dit sluit jou ouers en skoonouers in.... glo dit of nie. Die 5de gebod (eer jou Vader en jou Moeder) is ook nogsteeds van krag, ons moet ons ouers bly eer selfs nadat ons getroud is, maar terselfdertyd moet daar tog 'n verandering in die verhouding tussen jou en jou ouers wees wanneer jy getroud is..

Verder beteken hierdie verlaat konsep ook nie noodwendig 'n geografiese verlaat nie. Daar is baie mense wat in 'n ander lande as hulle ouers bly, maar wat nogsteeds nie verlaat het nie, terwyl party mense wat naby aan hulle ouers bly tog verlaat het. Nou dit is so dat in meeste gevalle, waar dit moontlik is, 'n geografiese verlaat 'n goeie ding is, maar moenie dink omdat jy nou vêr wegtrek van jou skoonouers af, dat jou man of vrou nou uiteindelik darem sy ouers verlaat het nie, want dit is nie noodwendig so nie.

Maar wat beteken dit dan? Ons het pas gesê dat daar 'n radikale verandering in die verhouding tussen ouer en kind moet kom. Maar wat presies moet verander? Vir die doeleinde van hierdie artikel gaan ons nie hier op hierdie onderwerp uitbrei nie, liewer sal ons 'n aparte artikel daaroor plaas. (vir meer inligting oor hierdie spesifieke onderwerp, en eintlik oor die huwelik as geheel, lees gerus "Sweethearts for a Lifetime" deur Dr. Wayne Mack en sy vrou Carol Mack)

Vir nou is dit belangrik om te besef dat, versuim om die beginsel van Gen 2:24, naamlik dat die man (en die vrou natuurlik) sy ouerhuis moet verlaat, toe te pas 'n ernstige hindernis vir die prioriteit van die huwelik is en onnodige druk daarop sal plaas, bloot omdat die man of vrou wat dit versuim, se hart verdeeld is tussen ouerhuis en huwelik.

2. Die tweede hindernis wat die prioriteit van die huwelik belemmer is wanneer kinders 'n hoër prioriteit word as jou huwelik. In ons tyd en samelewing het die euwel ingesluip dat jou kinders jou hoogste prioriteit is. Daar is geen teks in die Bybel wat leer dat om ma te wees vir kinders belangriker is, of selfs ewe belangrik is, as om vrou te wees vir haar man nie. Net so is daar geen teks wat wys dat pa wees belangriker is as man wees nie. Ouerskap is nie die hoogste prioriteit, soos wat die wêreld vir ons leer nie.

Maar soos wat ons baie duidelik reeds gesien het, in die vorige artikel, leer die Bybel ons baie duidelik dat die huwelik die belangrikste prioriteit is. Die huwelik is die permanente verhouding, nie die ouer kind verhouding nie. Selfs as ons weer dink aan die doel van die huwelik, dan sien ons dat om kinders voort te bring maar net een van die doelwitte van die huwelik is, en dit selfs maar net een van die sekondêre (nie om te sê dat dit onbelangrik is nie) doelwitte. As kinders voortbring en opvoed die belangrikste doel vir die huwelik sou wees, sou dit beteken dat die sukses van die huwelik gemeet sou word aan die hoeveelheid kinders, of selfs die sukses van die kinders, wat geensins die waarheid is nie. Daar is talle huwelikspare wat nie kinders kan hê nie maar dit maak daardie huwelike nie mislukkings of van minder waarde as huwelike waaruit daar talle kinders gebore word nie.

In 'n latere artikel sal ons meer oor kinders in die huwelik praat, maar vir nou is dit net baie belangrik om te verstaan dat jou kinders nie jou hoogste prioriteit is nie, jou man is. Jou kinders is nie jou hoogste prioriteit nie, jou vrou is. Jou huwelik is jou hoogste prioriteit. Of jy dit wil aanvaar of nie, of jy daarvan hou of nie, om vrou te wees vir jou man, en om man te wees vir jou vrou is jou eerste en belangrikste prioriteit, NIE JOU KINDERS NIE!

As jy die beste pa vir jou kinders wil wees fokus daarop om die beste man vir jou kinders se ma te wees, en as jy die beste ma vir jou kinders wil wees fokus daarop om die beste vrou vir jou kinders se pa te wees.

3. Dan is daar natuurlik ook ander struikelblokke vir die prioriteit van die huwelik. Baiekeer is dit verhoudings met vriende. Jou vrou is nou jou beste vriend man. En vrou, jou man is nou jou beste vriend. Die huwelik is jou hoogste prioriteit, nie jou vriende nie. Daar is niks in die Bybel wat sê dat jy jou vriende nooit mag los nie (inteendeel, as sekere vriende probleme in jou huwelik veroorsaak moet jy ook van hulle afstand doen), maar die huwelik mag nooit verbreek word nie.

Dieselfde beginsel geld by jou loopbaan. Die oomblik as jou loopbaan druk op jou huwelik begin plaas, dan moet jy ernstig die vraag begin vra of daardie loopbaan God se wil vir jou is. Loopbane het afgode geword vir ons, en daar is letterlik mense wat ter wille van hulle loopbane, hulle huwelike opoffer. Watter absolute gruwel voor God!

As jy vind dat jy nie jou huwelik en jou loopbaan albei kan hanteer nie, los jou loopbaan.... jy kan en sal met minder geld (en minder eer) oor die weg kom, so los dit! Die Bybel leer vir ons die beginsel van radikale amputasie van goed wat jou in sonde inlei of wat jou laat struikel (Mat 18:9). Na jou verhouding met God is die huwelik jou eerste en belangrikste prioriteit en jy mag onder geen omstandighede toelaat dat daardie prioriteit versteur raak deur ouers, kinders, vriende, loopbane of enigiets anders nie. Sny dit af die oomblik as dit jou huwelik negatief beïnvloed. Jy is in die eerste plek geroep om 'n man vir jou vrou te wees, man! En vrou, jy is in die eerste plek geroep om 'n vrou vir jou man te wees!

Nou hier is so 'n paar baie moeilike beginsels neergelê, en die feit is, hierdie goed kom nie sommer net natuurlik nie. Ons is sondige mense. Van nature is ons selfsugtig, so ons soek ons eie selfsugtige belange in plaas daarvan om na die belange van ons man of vrou om te sien. Van nature jaag ons allerhande onbybelse doelwitte in ons lewens na in plaas van dit wat regtig saak maak.

Van nature is ons prioriteite deurmekaar, ons is sondige mense. Nou wat dit beteken is dat hierdie dinge nie sommer maar net vanself regkom nie, dit gebeur nie net nie. Salomo skryf in Spreuke 24:30-34 "Ek het by die land van 'n lui man verbygeloop en langs die wingerd van 'n verstandelose mens, (31) en kyk, dit was heeltemal toegegroei van die dorings, sy oppervlakte was oordek met brandnekels en sy klipmuur omgegooi. (32) En ek het dit aanskou, ja, daarop gelet, gekyk, en lering aangeneem: (33) Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie hande-vou om uit te rus; (34) dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos 'n gewapende man."

Dieselfde beginsel geld vir die huwelik. Om die huwelik reg en goed te hou, is soos om 'n tuin, of wingerd, goed en reg te hou, dit verg harde werk, dit verg moeite. "In enige moeitevolle arbeid is voordeel" sê Spreuke 14:23. En wat is meer die moeite werd as om tyd en moeite te spandeer aan dit wat jou hoogste prioriteit is, naamlik jou huwelik.

Ongelukkig dink mense baiekeer dat maar net moet gebeur, en ongelukkig is baie daarvan as gevolg van die hele fabel van "compatibility". Mense sien mekaar as "compatible" dan beteken dit nou alles gaan sommer net uitwerk, want ons pas so goed bymekaar. Nee, wanneer jy trou dan trou jy met iemand wie se agtergrond heeltemal anders is as joune, iemand wie fisies heeltemal anders as jy is, wie 'n ander soort temperament, persoonlikheid, belangstellings, perspektiewe, verwagtinge en waardes as jy het.

Omdat daar sulke verskille is, en omdat julle albei sondaars is, verg dit harde werk om die huwelik goed en reg te hou. En wees baie versigtig, oppas as jy dink jy staan dat jy nie val nie. Moenie dink "my huwelik is te sterk, my huwelik sal nooit faal nie".

Wees versigtig, werk aan jou huwelik, doen moeite om tyd saam te spandeer en die beginsels van die huwelik reg en getrou toe te pas. Hou aan werk daaraan, want die huwelik is jou eerste en belangrikste prioriteit!

In die liefde van Christus, gegroet!

Hits: 1494
0

Lees Gen 2:15-25

Een van die grootste redes waarom goed in die lewe misluk, is omdat dit van die begin af nie reg gedoen is nie, omdat dit op die verkeerde basis gedoen is, of op die verkeerde fondasie gebou is. En met omtrent niks anders in die lewe word dit duideliker gesien as in die huwelik nie. Huwelike misluk en breek uit mekaar uit omdat dit nie op die regte basis, die regte fondasie gebou is nie.

Kom ek illustreer:

Sê nou ek wil 'n huis bou. Nou gaan ek en ek gaan koop vir my so paar pallets bakstene, so paar sakkies van die heel beste en duurste sement. Nou laai ek dit agter in my Jazz in... moenie lag nie 'n Jazz het baie spasie! En daar gaan ek. Nou al wat ek moet doen is om te begin bou.... o nee wag ek lees die instruksies op die pakkie sement oor hoe dit aangemaak moet word. Daar gooi ek die pakkie sement uit, gooi die bietjie water by en nou meng ek dit lekker. En nou begin ek bou. Ek lê gou die eerste ry stene op die grond langs. Nou ek wil 'n sterk huis hê so ek lê twee rye bakstene langs mekaar netjies in 'n reguit ry, so min of meer 10 meter, um nee wag, 15 meter, ek soek 'n groot huis..... 'n dubbel verdieping! Wel en nou moet ek die twee rye bakstene.... oeps nee wag, miskien moet ek die bakstene reg rondom pak, so 15 by 12 meter. En daar gaan ek en ek pak, mooi reguit lyntjies en ek gooi daai lekker sterk sement lekker dik bo-op en ek begin die tweede lot bakstene bo-op te pak, en so gaan ek aan.

Nou die van julle wie al 'n huis gebou het, of wat iets daarvan weet, wat dink julle? Hoe goed dink julle gaan my huis wees? Ons weet mos, hy gaan inmekaar stort sommer met die eerste reën van die somer.

Wel dis presies hoe meeste huwelike vandag gebou is, maar jy verwag dit moet staan, dit moet hou as daar 'n storm kom!! "O maar ek het darem die instruksie op die sement pakkie gelees en dit gevolg". Om die sement aan te maak is maklik, dis soos koekies bak, eintlik nog makliker want daar kom nie eers margarine en eiers by nie. Om twee bakstene aan mekaar geplak te kry met sement, dis eenvoudig. Om te trou, om 'n troue te hê, 'n seremonie en onthaal, dis maklik, dis koekies bak. Maar kom ek vra nog 'n vraag, as ek die huis so bou, op daardie manier, watter verskil gaan die kwaliteit en die prys van die sement aan daai huis maak? Dit gaan hoogstens die bakstene net so bietjie langer aan mekaar hou dalk, maar die huis gaan nogsteeds skeef wees en uiteindelik inmekaar stort.

Maar ons spandeer hoeveel ure daaraan om ons troues te beplan? Alles moet perfek volgens die boek gedoen word... wanneer dit by die troue kom. Ons huur beplanners en fotograwe, spyseniers... Ek lees êrens hulle sê dat mense op gemiddeld, iets soos 250 ure spandeer op die beplanning van hulle troue. Die gemiddelde koste vir 'n troue beloop so iets soos R 700-R800 per persoon, so R70-80K as jy 100 mense nooi. En dan kom die groot dag en “bing bang”, 2 of 3 ure en julle is getroud en die seremonie en onthaal is verby, great! Awesome! Geluk! Jy het die sement mooi aangemaak! Jy het twee bakstene aanmekaar vas gesement.

So vir die 2-3ure troue het jy 250ure se beplanning spandeer. Maar hoeveel ure se beplanning het julle spandeer om voor te berei vir die huwelik... wat hopelik darem bietjie langer gaan wees as die troue, hoeveel ure? Miskien 3 of 4 ure se voorhuwelikse berading? Vandag word meeste mense wishy washy sentimentele DVD's gegee om na te kyk ter voorbereiding vir die huwelik. Maar die sement is darem volgens instruksie aangemaak......! Twee bakstene is aanmekaar geplak...!

Ons probleem begin by die heel eerste punt, dit begin by wie die huwelik ingestel het, dit begin by die oorsprong van die huwelik. Julle sien, as die huwelik 'n blote menslike instelling was dan kon ons maar gemaak het daarmee soos wat mense vandag daarmee maak.... net wat hulle wil.

Maar dit is nie 'n menslike instelling nie, dit is God wat die huwelik ingestel het, dit is Hy wat dit ontwerp het op 'n sekere manier, en vir 'n sekere doel In Genesis 2:24 lees ons die instellings woorde van die huwelik, waar God sê, "Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees." Hy herhaal daardie woorde op drie ander plekke in die Bybel naamlik Mat 19:5, Mar 10:7-8 en Ef 5:31. Dit is die fundamentele basis van die Huwelik, die fondasie. Die eerste belangrikste punt wat ons moet, moet onthou: Die huwelik kom van God af, dis Sy instelling, Sy plan, Sy ontwerp, vir Sy skepping.

Dit beteken natuurlik dat ons daarom die huwelik nie opsy mag skuif nie. Ons het nie die reg om te besluit dat die huwelik vandag nie meer werk en dit daarom sommer maar net te los en dit op ‘n ander manier te doen nie. Nee, dit is God se instelling en daarom bly dit staan. Maar omdat dit God se instelling en ontwerp is, beteken dit ook dat ons dit nie sommer maar net kan doen soos wat dit ons pas, of volgens dit wat by die tydsgees en populêre idees pas nie.

Die groot idee vandag is die saambly verhouding. Dit werk beter volgens mense (die praktyk, net terloops, bewys anders). En, sê hulle, “dit is in elk geval voor God asof ons getroud is”. Um, nee dit is nie, dit is net nie so nie. Vat byvoorbeeld die gedeelte in Johannes 4 waar Jesus met die Samaritaanse vrou praat. Onthou julle wat het Hy vir haar gesê toe sy vir Hom sê "ek het nie 'n man nie"? Jesus het haar geantwoord, "Jy het reg gesê: Ek het nie ‘n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie."

Wat is Sy punt? Sy het saam met die ou gebly, sy was in 'n verhouding met hom wat vandag gesien sal word as "ons is voor God getroud", maar Jesus (God self) klassifiseer dit as "hy is nie jou man nie". Daar was geen amptelike huwelik nie. So wanneer mense vir ons wil sê, maar dit is dieselfde as om getroud te wees, is die antwoord eenvoudig, nee, dit is nie. In Spr 2:17 en Maleagi 2:14 noem God die huwelik 'n verbond, 'n konsep wat ingesluit word in die Hebreeuse woord wat in Gen 2:24 vertaal word met "aankleef", dit is 'n verbond deur God ingestel, wat ons moet eer en moet toepas soos wat Hy wil.

God het 'n spesifieke ontwerp, 'n spesifieke plan en 'n spesifieke doel, of doelwitte, met die huwelik. Met ander woorde, ons mag ook nie nou skielik, net omdat dit 'n populêre idee is, mans met mans en vrouens met vrouens laat trou nie. Nee, oor en oor lees ons in die Skrif dat die huwelik tussen 'n man en 'n vrou is. Die Here het uit Adam die vrou, Eva, gemaak en dit is hulle twee, man en vrou wat bymekaar pas en wat mekaar moet aankleef (sien in verband hiermee ook 1 Kor 6:10; Rom 1:27; Lev 18:22; 20:13 ens.).

Ons lees ook in die Skrif dat God spesifieke rolle vir die man en vrou gegee het. Nou ons sal in ‘n latere artikel wel daarby kom, maar vir nou is die punt net, as God spesifieke geslagsrolle daar gestel het in Sy ontwerp vir die huwelik, wat Hy geskep en ingestel het, dan sal ons dwaas wees om dit nie te volg nie, soos iemand wat 'n huis so probeer bou soos wat ek bo beskryf het. Selfs al is dit hoe moeilik, selfs al voel dit vir jou of jou spesifieke huwelik en omstandighede die uitsondering op die reël is, en dat jy daarom die normale geslagsrolle maar mag omdraai in jou huwelik, nee dit is nie.

Daar is in die bou van 'n huis basiese beginsels waaraan voldoen moet word. Ek meen sekere goed kan dalk op 'n ander manier gedoen word volgens die soort grond of die area waar jy die huis bou, waar jy die verskillende kamers wil hê, watter soort dak jy gaan gebruik, of jy gaan pleister of nie ens. Maar daar is basiese beginsels waarvan jy nie afwyk as jy 'n huis bou nie. Ons weet dit, ons verstaan dit, maar dit is presies dieselfde met die huwelik, en eintlik nog meer so. Daar is een vaste plan en ontwerp van die een alwyse Skepper van die huwelik, en terwyl jy miskien nog kan durf om met 'n argitek of ingenieur te stry oor die ontwerp of watokal van die huis, omdat hulle feilbaar is, kan jy nie met God stry nie, want Hy is onfeilbaar. Hy is altyd reg, en Sy plan en doel is altyd volmaak.

Huwelike val uitmekaar uit, en let wel, dit geld vir alle huwelike wat misluk, sonder uitsondering, hulle misluk net vir een rede, omdat hulle afgewyk het van God se plan en doel vir die huwelik. Maar dan, aan die ander kant, jy kan 'n huis baie goed bou, jy kan ook al die planne volg en 'n goeie fondasie en al daardie dinge volgens die boek doen, maar dit kan nogsteeds inmekaar sak of uitmekaar geruk word deur ernstige natuurrampe.

Maar 'n huwelik wat op God se fondasie staan, Christus gesentreerd is, en volgens God se plan gebou is, is onvernietigbaar, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Onthou: "Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra." (1 Kor 10:13)

As jy wil hê dat jou huwelik onwankelbaar en onbreekbaar moet wees, doen dit op God se manier, bou dit op Sy goeie en vaste fondasie, volg Sy plan en moet nooit daarvan afwyk nie!

In die liefde van Christus, gegroet!

Twitter

Marriage 1

Hits: 2957
0

Posted by on in Huwelik en Gesin

Lees Gen 2:15-25

Wat is die belangrikste verhouding wat daar is? Ek glo ons as Christene sal almal saamstem dat ons verhouding met Christus eerste kom. Dit is die eerste verhouding wat daar was dit het bestaan voor enige ander verhouding. En dit is ook die enigste ewige verhouding wat daar is. Geen ander verhouding is ewig nie, want selfs die huwelik word deur die dood geskei maar nie ons verhouding met God nie (Rom 8:38-39).

In Efesiërs sien ons dat die apostel Paulus in die eerste drie hoofstukke ook eerstens op hierdie verhouding tussen ons en God fokus, voordat hy later by ander verhoudinge uitkom, dieselfde patroon word gevind in Kolossense. So ons verhouding met God is die eerste en belangrikste prioriteit in ons lewe.

Maar soos ons weet is dit nie die enigste verhouding wat daar in ons lewens is nie. Ons word omring deur ander mense, en die Woord maak dit duidelik dat ons goeie verhoudinge met alle mense moet probeer hou (Rom 12:18; Mat 22:39 Maar let op dat ons liefde vir God, ook in die opsomming van die wet in Mat 22:34-40, weereens eerste kom en dan ons liefde vir ons naaste).

So al is ons verhouding met God ons heel eerste en primêre verhouding, die eerste prioriteit in ons lewe, kan ons sien dat die Here duidelik wil hê dat ons aan ander verhoudings ook moet werk. En dit is dan ook wat ons sien in die res van Efesiërs byvoorbeeld. Nadat Paulus in hoofstuk 1-3 gefokus het op ons verhouding met God, kom hy in die laaste drie hoofstukke en fokus hy in op ons verhouding met ander mense.

1. Maar in daardie laaste drie hoofstukke is daar weer n baie belangrike volgorde, wat nie per toeval so gedoen is nie. In hoofstuk 4, en begin van hoofstuk 5 lê Paulus so paar basiese beginsels neer waarvolgens ons moet lewe en wat natuurlik vir elke verhouding waarin ons staan geld. Maar dan van Ef 5:21 af fokus hy in op spesifieke verhoudings waarin ons staan. En daar sien ons 'n belangrike volgorde, hy begin met die huwelik, dan beweeg hy na die ouer en kind verhouding, en dan na werkgewer en werknemer verhouding. In Kolossense volg hy dieselfde patroon, 'n rangskikking van verhoudings in hulle regte prioriteit orde.

2. In 1 Tim 3 sien ons ook iets van dieselfde patroon wat gevolg word wanneer daar gepraat word van wat manne nodig het om te kwalifiseer vir die ouderlinge amp. Daar sien ons dat, wat die verhoudings van die ouderlinge aanbetref, word die huweliksverhouding eerste geplaas. Natuurlik sien ons ook in daardie gedeelte dat 'n swak huweliksverhouding iemand diskwalifiseer van die amp van ouderling en diaken.  Dit is hoe belangrik die huwelik in God se oë is.

3. Maar ons kan selfs nog verder gaan. Wat menslike verhoudings aanbetref, besef u dat die huwelik die enigste een is wat as permanent beskryf word in die Bybel? Enige ander verhouding kan verbreek word sonder dat dit sonde is, maar nie die huwelik nie. Ons mag nie die huweliksband verbreek nie. Dit sien ons duidelik in die tien gebooie en talle ander gedeeltes in die Bybel uitgespel (Eks 20:14; Mal 2:16; Mat 19:4-6; Rom 7:2-3; 1 Kor 7:10-14 ens).

In Maleagi 2:16, byvoorbeeld sê dit dat God egskeiding haat. Nêrens in die skrif sê God dat hy enige ander skeiding van verhouding haat nie. Dit is net die skeiding van die huweliksverhouding en die skeiding van verhouding tussen Hom en Sy volk wat Hy haat. Dit is duidelik dat die huwelik vir God van geweldige belang is. En omdat dit so is moet dit vir ons duidelik wees dat ons huweliksverhoudings ook ons eerste prioriteit moet wees, buiten natuurlik ons verhouding met die Here.

4. Die ander ding wat ook wys op die prioriteit van die huwelik, is die feit dat die huweliksband in terme van verbond, deur God beskryf word in Maleagi 2:14. Met ander woorde dit is nie sommer maar net 'n los verhouding nie, dit is 'n ernstige verbondsverhouding. En weereens, geen ander verhouding, behalwe die verhouding tussen God en Sy mense en die huwelik, word in verbond terme beskryf, deur God nie.

5. Ons kan ook daarby voeg dat die huwelik ook die eerste verhouding is wat, deur God, tussen mense ingestel is. Ons lees in Genesis 2 dat God nie vir Adam 'n kind gegee het en die verhouding tussen pa en kind ingestel het nie. Adam is ook nie net 'n vriend of 'n broer of suster gegee nie. Adam is 'n vrou gegee en dit was die eerste verhouding tussen mense waarvan ons in die Bybel lees.

Dit is die fundamentele verhouding tussen mense, die huwelik. Nie vriendskap verhoudings, of broer-suster of ouer-kind verhouding nie, maar man en vrou, verhouding.

6. Maar kom ons gaan nog so bietjie verder, aan hoeveel ander verhoudings in die Bybel kan jy dink wat in terme van een vlees beskryf word? Word daar ooit gesê dat broers en susters een vlees is? Of wat van jou verhouding met jou kinders, sê die Bybel ooit dat jy en jou kinders een vlees is, of dat jy jou kinders moet aankleef?

Nee, nie een van daardie verhoudings word in terme van verbond, of in terme van een vlees, of as 'n "aankleef verhouding" beskryf nie. Die enigste verhouding in die Bybel wat so beskryf word is die verhouding tussen man en vrou, die huwelik, en dit sien ons natuurlik duidelik in Gen 2:24 uitgespel. So ook daarin sien ons dat die huweliksverhouding die belangrikste menslike verhouding is.

7. Maar, om nog steeds by Gen 2:24 te bly, sien ons ook dat geen ander verhouding (behalwe weer die verhouding tussen ons en God) beskryf word as 'n verhouding waar daar "verlaat" moet word nie. In ons verhouding met God word daar 'n verlaat element aan gekoppel. Ons kan nie in die wêreld en in Christus wees nie, ons kan nie lig en duisternis wees nie (Jos 24:19-20; Mat 4:10; Mat 6:24; Jak 4:4; 1 Joh 2:15-16 ens). Ons verhouding met Christus is 'n eksklusiewe verhouding. Ons moet alle ander gode van ons hart verlaat en Hom alleen volg.

En daar is net een ander verhouding wat so eksklusief is. Dink daaraan, word dieselfde soort toegewydheid en eksklusiwiteit van ons verwag in enige ander verhoudings in ons lewe? Moet ons eers alle ander verhoudings verlaat voordat ons vriende kan wees met iemand anders? Moet ons alle ander verhoudings verlaat sodat ons ouers kan wees vir ons kinders?

Nee, dit is slegs in ons verhouding met die Here en in die huwelik wat "verlaat" van ons verwag word. In Gen 2:24 staan daar geskrywe dat die man sy ouers sal verlaat en sy vrou aankleef. Dit is 'n eksklusiewe verhouding, 'n verhouding wat vereis dat ons ander verhoudings, in besonder dan, die verhouding met ons ouers, moet verlaat. In die volgende artikel sal ons bietjie meer sê oor hierdie "verlaat" en wat dit behels, maar vir nou is dit belangrik dat jy sal sien dat die huwelik die hoogste prioriteit in ons lewens behoort te wees. Buiten ons verhouding met God is daar geen verhouding belangriker as die huweliksverhouding nie.

Mag die Here ons daarin help dat ons dan ons huwelike so sal hanteer, dat ons hard sal werk aan ons huwelike, omdat Christus so n hoë prioriteit aan dit gegee het.

In die liefde van Christus, gegroet!

b2ap3_thumbnail_Marriage-Jesus-plan.jpg

Hits: 1814
0

Wat is die verskil tussen die Christen huwelik en enige ander huwelik? Het die Christen huwelik nie probleme nie, terwyl die ander wel probleme het? Nee, ons weet dis nie so nie, Christene het net soveel probleme in hulle huwelik soos ander mense. So wat is dan die verskil tussen die Christen huwelik en ander huwelike? Of miskien moet ek liewer vra, wat is die verskil tussen n Christus gesentreerde huwelik en n nie Christus gesentreerde huwelik?

Die kort antwoord is dat mense in die Christus gesentreerde huwelik, weet hoe om probleme te hanteer, hulle weet wat om met probleme te doen. En dit kan ons opsom in drie punte:

1. In die eerste plek besef en erken mense in 'n Christus gesentreerde huwelik, dat hulle sondaars is. Sien, selfs in die sekulêre wêreld word dit as redelik vanselfsprekend aanvaar dat jy n probleem eers kan oplos wanneer jy erken dat daar n probleem is.

Daar is so kort YouTube video wat ek onlangs kyk waar n man en n vrou sit en gesels, en die vrou vertel vir die man hoeveel druk sy het en sy praat van die kopseer en alles wat sy heeltyd het en hoe erg dit is. Uiteindelik draai sy so dat jy kan sien dat daar n spyker in haar voorkom vassit. Die man begin toe natuurlik deur vir haar te probeer verduidelik dat die probleem is dat daar n spyker in haar voorkop is. Maar hoe meer hy probeer, hoe meer skiet sy hom af. Sy weier eenvoudig om te aanvaar dat die spyker waarskynlik die oorsaak van die probleme is, en dat die verwydering van die spyker die probleme gaan oplos.

Dit is ongelukkig hoe baie mense vandag is, ook in verband met hulle huwelike. Daar is allerhande probleme, dit kan gesien word in mense se optrede oor die algemeen, hulle optrede teenoor huweliksmaats, dit wat hulle oor huweliksmaats sê ensovoorts, maar probeer die oorsaak van die probleem uitwys, en hulle sal dit ontken met al hulle mag. In so baie gevalle word daar dan sommer summier ontken dat daar enige probleme is, alles is OK, ons is OK, ons gaan net deur n bietjie van n rowwe tyd, omstandighede is net moeilike so ons het net ondersteuning en aanmoediging nodig, daar is nie probleme nie. En dit is die begin van die einde in so baie gevalle.

Maar in die Christus gesentreerde huwelik is dit nie so nie, in so n huwelik word probleme erken, en daar word bely dat die oorsaak van die probleme, sonde is. En dit is nie net sonde in die geheel wat geïdentifiseer word as die probleem nie, nee persoonlike en spesifieke sonde word geïdentifiseer, erken en bely, nie net tot God nie, maar ook tot mekaar. In die ware Christen huwelik word sonde (die werklike oorsaak van alle probleme) nie weggesteek of ontken nie, want die Christen besef dat hulle wie hulle sondes wegsteek niks goeds te wagte kan wees nie (Spr 28:13). Dus erken en bely hulle hulle sondes en probleme openlik tot God, tot mekaar en, indien nodig, ook tot ander broers en susters wie hulle moontlik sal kan help.

2. Maar, tweedens, Christene weet ook wat om te doen met hulle sondes. Hulle weet dat hulle dit na Christus moet neem en dat hulle Hom en hulle eggenote om vergifnis moet vra daarvoor. Sien, dit is nie net n geval van die erkentenis of belydenis van sonde nie, want dit herstel nie verhoudings nie, daar moet, in ware berou oor die sonde, ook vergifnis gevra word, soos wat die bede van die Onse Vader ook lui vergeef ons ons oortredings (Mat 6:12).

En wanneer dit kom by die party waarteen daar gesondig is, in die Christus gesentreerde huwelik, sal daar vergewe word nog vinniger as wat vergifnis gevra is. Die ware Christen besef dat hy/sy self op genade alleen lewe, dat die vergifnis wat hy van God af ontvang het totaal onverdiend is en daarom vloei vergifnis uit die Christen uit soos n onuitputbare fontein, en is hy reg om ander (insluitende natuurlik sy eggenoot) te vergewe, soos wat God hom ook vergewe het (Mat 6:12 en Ef 4:32).

3. Maar dit is nie die einde van die pad om probleme op te los nie. Op hierdie stadium is die probleem geïdentifiseer, dit is bely en die verhouding is herstel (dit is belangrik om te sien dat die verhouding dan tog alreeds herstel is) nadat vergifnis gevra en ontvang is. Nou moet daardie sonde, dit wat die probleem veroorsaak het, (let wel nie net die simptome van die probleem nie, die oorsaak daarvan) uitgewis en bestry word.

Op hierdie punt is dit absoluut noodsaaklik om eers te besef dat die Christen die krag het, deur die werking van Christus in sy hart deur die Heilige Gees (Ef 2:10; Fil 4:13), om sonde te oorkom, of die ou mens af te lê, soos wat dit in Efesiërs 4 gestel word, en om hulle met die nuwe mens te beklee. Christene is mense wat in Christus lewend gemaak is en daarom lewend gemaak is tot die nuwe lewe.

Maar dit is ook net so uiters belangrik dat albei huweliksmaats sal besef dat die een wat gesondig het nie alleen in die stryd teen daardie sonde is nie. Ja selfs al was daar nie sonde teen die huweliksmaat of in die huwelik nie, enige probleme wat een persoon in n huwelik het, is net soveel die eggenoot se verantwoordelikheid om te oorkom en te bestry, as wat dit die persoon se eie verantwoordelikheid is. Dit is deel daarvan om een vlees (Gen 2:24) te wees.

In Efesiërs 5 sê die Here die volgende vir ons in verband met die huwelik: Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief;

Hier word daar wel gefokus op die man se verantwoordelikheid in die huwelik, maar dit word hier duidelik gemaak dat daar n heiligmakende funksie in die huwelik is. En heiligmaking is niks anders as die proses van aflê van die ou mens en bekleding van die nuwe, deur die Heilige Gees nie. In die Christen huwelik is die eggenoot net so bekommerd oor sonde in haar maat as wat sy oor sonde in haar eie lewe is en daarom word daar in so n huwelik onmiddellik n spanpoging aangewend om enige sonde en probleme uit te sny en dit te vervang met die lewenswandel wat ooreenkomstig is met die van Christus waarin die Christen lewe en waartoe Hy geroep is (Ef 4:1).

Dit is iets wat op n daaglikse basis in die Christus gesentreerde huwelik gebeur. Besef en erkentenis van sonde, dan ook berou en belydenis van daardie sonde tot God en die eggenoot (of enige ander persoon) waarteen daar gesondig is, en dan span die huweliksmaats saam om teen daardie sonde te stry en op daardie manier hulle huwelik, in Christus, van krag tot krag te neem.

In die liefde van Christus, gegroet

b2ap3_thumbnail_Two-become-one.jpg

Hits: 1792
0