Christelike Lewens-Kwessies

Posted by on in Christelike Lewens-Kwessies

Die Here beveel ons om nie bekommerd te raak, of om oor niks besorg te raak, nie. Maar Hy gee ook vir ons 'n handleiding om bekommernis te oorkom. In hierdie, en die volgende preek kyk ons, prakties, na hierdie onderwerp.

https://www.youtube.com/watch?v=21d_zscFfu4

Hits: 161
0

Posted by on in Christelike Lewens-Kwessies

Hoe kan ons vrees oorkom? (Audio)

https://www.youtube.com/watch?v=5e5IH_Ab_NA

Hits: 160
0

Vanoggend lees ek dat Ashwin Willemse se regverdiging van sy optrede, nadat Naas Botha en Nick Mallet onskuldig verklaar is van rassisme, is dat hy “dit nie so ervaar het nie”. En ons is dalk te vinnig om oor hom te oordeel, want doen ons nie baiekeer maar eintlik dieselfde ding nie? Gebeur dieselfde soort ding nie maar oor en oor en oor in die kerk, onder Christene, wanneer daar verskille of probleme in onderlinge verhoudings opduik nie?

Die ding is, in hierdie post-moderne (of liewer post post-modern?) tyd waarin ons lewe het gevoelens die maatstaf geword van reg of verkeerd en van goed of sleg. Die woord wat gebruik word om dit wat reg voel, reg oorkom of goed voel is die woord “liefde”, wat dit so ‘n mooi klank gee en ons maklik, as gevolg van ons gevoelens, kan oorreed.

Of die gebeure in sekere situasies, en dit wat gesê is, reg of verkeerd of goed of sleg is word gemeet aan hoe mense daaroor voel, hoe dit vir hulle oorgekom het en hoe hulle dit ervaar het, in plaas van dit wat regtig gesê is en regtig gebeur het. Van daar af, en met daardie subjektiewe gevoelens van mense as maatstaf, word gebeure, of dit wat gesê is, dan as liefdeloos of liefdevol, reg of verkeerd, goed of sleg, bestempel.

Dit wat werklik gebeur het, die besonderhede daarvan, en dit wat werklik gesê is, die presiese woorde en die konteks, is van geen werklike waarde nie. Inteendeel, om terug te verwys na die besonderhede van gebeure, of om terug te verwys na dit wat werklik gesê is en die presiese woorde wat gebruik is en om getuies of bewyse in te roep ens. word as liefdeloos beskou want "nou kloof jy net hare oor nietighede, terwyl al wat saak maak is 'hoe mense dit ervaar het' en 'hoe dit oorgekom het'".

Maar as ons regtig baie mooi daaraan dink, dan is eintlik presies daardie manier van dink en doen, liefdeloos. Gaan liefde nie daaroor dat die ander persoon die voordeel van die twyfel gegee moet word nie (“die liefde glo alles”)? Maar as my eie subjektiewe gevoelens die uiteindelike maatstaf word dan is dit net “ek” wat die voordeel van die twyfel kry, en almal anders moet buig voor my gevoelens (of my gevoelens se interpretasie van wat regtig gebeur het) wat op die regterstoel geplaas word en oordeel oor reg en verkeerd.

Die liefde is bly saam met die waarheid. Daarom, as daar werklik liefde is, behoort daar ‘n opregte, eerlike en ernstige soeke na die ware gebeure, en dit wat werklik gesê is, te wees in plaas daarvan om die waarheid met gevoelens, en “hoe dit vir my oorgekom het”, en “deur my ervaar is”, te verduister.

Goddelike liefde is nie gevoelens nie, goddelike liefde word nie gemeet aan hoe iets oorkom, of hoe iets deur my ervaar word nie. Goddelike liefde beteken juis dat ons besef dat my eie gevoelens en ervarings van iets verkeerd kan wees omdat ek ‘n sondaar is en geen natuurlike soeke en liefde vir die waarheid het nie. Goddelike liefde beteken juis dat ons ons subjektiewe interpretasies van ‘n saak eenkant plaas en na die feite kyk.

Dit beteken dat ons die situasie, nie deur die bril van ons gevoelens nie, maar deur die bril van God se Woord sal bekyk en interpreteer, en met dit as maatstaf sal oordeel tussen reg en verkeerd, goed of sleg, liefdevol of liefdeloos.

Mag die Here ons daarin help dat ons ons sal bekeer van hierdie liefdelose praktyke van die wêreld wat so aan ons vaskleef. Dat ons ons gevoelens en subjektiewe interpretasies van sake sal prysgee en deur die bril van God se volmaakte Woord die waarheid sal soek en daarin sal lewe uit liefde vir Jesus en ons naaste!

In die liefde van Christus, gegroet

Jacques Prince

b2ap3_thumbnail_die-woord-van-god-is-die-letterlike-waarheid.jpg

Hits: 1206
0

Posted by on in Christelike Lewens-Kwessies

Lees: Ps 84

In die reis van ons lewens soek baie mense na hulp, terapie, berading of watokal mense dit alles noem. Dit is natuurlik fantastiese nuus want elke persoon het êrens in sy lewe 'n krisis en dan behoort so 'n persoon ook na hulp en raad te soek. Natuurlik waar die persoon soek, en die soort raad wat hy kry maak 'n geweldige verskil, maar daar is iets anders wat nog belangriker is om in ag te neem as waar jy hulp kry, en dit is waarom jy hulp soek.

As die rede na jou soeke om hulp reg is, dan sal jy amper sonder uitsondering, uiteindelik (miskien na 'n fout of twee), by die regte plek hulp en raad gaan soek. Die "regte plek" waarvan ek praat is natuurlik die ewige, onfeilbare en genoegsame Woord van God (2 Tim 3:16-17), en dus is die raadgewers, terapete of beraders, mense wie toegewyd is tot die uitleg en toepassing van die hulp en raad wat in die Woord van God aan ons gebied word. Dit is waar die ware hulp, troos en raad gevind sal word.

Maar ongelukkig is dit so dat so baie sukkelende mense nie daar gaan soek nie, en die grootste (nie die enigste nie) rede daarvoor is omdat die rede, die waarom, hulle hulp soek verkeerd is.

Verkeerde redes?

So hoe lyk 'n verkeerde rede om hulp voor te soek? As iemand baie depressief is, of huweliksprobleme het, of sukkel met Woede, wat kan 'n verkeerde rede wees om oplossings daarvoor te soek? Glo dit of nie, daar is 'n hele klomp verkeerde redes, hier is so paar van hulle:

  1. "Dit is net nie lekker om so te wees nie, dit laat my sleg en ongelukkig voel, so ek wil tog net beter voel."
  2. "My kort humeur het my nou al so paar keer my werk op die spel geplaas. Ek wil my humeur kan beheer sodat ek nie so in die moeilikheid kom by my baas nie."
  3. "Mense hou nie van my nie omdat ek so is, dit stoot mense weg en ek wil graag beter verhoudings met mense hê."
  4. "Ek hou daarvan om vir ander te kan gee, om ander gelukkig te maak, en as ek so is dan doen ek dit nie, so daarom wil ek graag hulp hê."
  5. "Al my vriende en vriendinne is nou al getroud, maar ek sit nog op die rak, so ek wil graag weet waarom, en dan ook wat ek moet doen dat ander van my sal hou en ek ook darem kan trou eendag."
  6. "Ons wil graag net gelukkiger wees in ons huwelik."
  7. "Ek wil hê mense moet na my kan kyk as 'n voorbeeld van 'n goeie man/vrou/pa/ma/mens. Dit is my droom dat mense eendag vir my sal kan sê 'sjoe, maar jy het jou kinders darem maar so wonderlik grootgemaak'."
  8. "Ek weet my optrede is sonde en ek wil nie hel toe gaan nie."

Hierdie is maar so paar verkeerde redes waarom mense hulp en raad soek. Maar wat is verkeerd daarmee? Ten minste die laaste een lyk reg en sekerlik is die vierde een op die lys heeltemal reg, as dan nie die ander nie. So wat is verkeerd daarmee? As ons mooi gaan dink daaroor dan is al hierdie redes gefokus op een ding, "ek". Dit gaan alles oor "ek wat wil beter voel", "ek wat wil beter lyk", "ons wat gelukkiger wil wees", "ek wat hiervan of daarvan hou", "ek wat nie hel toe wil gaan nie".

Dit is alles selfsugte redes en selfsug is verkeerd (Fil 2:3 ens).

Goed, maar wat daarvan as 'n ma se doel, byvoorbeeld, met die grootmaak van haar kinders is sodat hulle Christene kan wees, dat hulle gered kan word, is dit verkeerd? Wel, dit is sekerlik nie selfsugtig nie, maar selfs dit kan nie jou uiteindelik doel wees nie. Buiten die feit dat dit uiteindelik nie in jou hande is of jou kinders Christene is of nie, is dit nie die regte doel om 'n beter ouer te wil wees nie.

Dit is goed om jou kinders so groot te maak en daarom 'n beter ouer te wil wees. Om alles in jou menslike vermoë te doen en alle godgegewe toerusting in te span om jou kinders vir Jesus groot te maak, dit is heeltemal reg en goed natuurlik. Maar hulle verlossing kan nie jou uiteindelike doel wees nie, en dit kan nie die rede wees waarom jy hulp soek om 'n beter ouer te wees nie.

Wat is dan beter redes?

So waarom dan, wat kan beter redes wees as hierdie laaste genoemde rede, of enige van die redes hierbo? Daar is net een werklike goeie rede, die enigste opregte rede om te wil verander, beter te wees, beter te wil optree en, wel, om enigeiets anders te doen. Dit is die rede waarom ons in die eerste plek geskep is, en 1 Kor 10:31 som dit op "of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God."

Nou kan iemand natuurlik vra, maar maak dit nie van God selfsugtig nie? En die antwoord is natuurlik, nee. Paulus skryf in Romeine 11:36 "uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge." Dit beteken dat alles in elk geval uit Hom kom en daarom reflekteer alles in elk geval terug op Hom en daarom kom alle heerlikheid Hom in elk geval toe tot in ewigheid (Onthou in hierdie verband dat jou visie ook moet reg wees om dit te kan raaksien).

Maar tog is daar wel 'n diep geheimenis daarin ook. Sien, al daardie ander redes wat hierbo genoem is loop uiteindelik eintlik op niks uit nie. Dit is nie net dat dit selfsugtig is nie, maar dit is uiteindelik, in werklikheid, self-destruktief om op sulke dinge te fokus, want eerstens gaan al daardie dinge verby een of ander tyd, dit kom alles tot 'n einde, en tweedens dra al daardie ding 'n hoë risiko van mislukking wat op eindig in teleurstelling (Sien Ps 73:18-20) en dus nog verdere hartseer en probleme.

God is nie selfsugtig nie, nooit nie, maar Hy is alwys en daarom weet Hy dat die heel beste ding vir ons is om te fokus daarop om Hom te verheerlik, want dit het geen einde nie, dit gaan nooit verby nie en dit kan nooit misluk nie..... ja, sukses in hierdie onderneming is gewaarborg tot in ewigheid!

Dit is waarlik die een en enigste ewige konstante ding wat daar is, om naby God te wees (wat Hom verheerlik), in Sy weë te wandel (wat Hom nog meer verheerlik) en om na die beeld van Christus (wat Hom die heel meeste verheerlik) gevorm te word (Rom 8:28-29).

So ondersoek jou motiewe, ondersoek die redes waarom jy doen wat jy doen in jou lewe, waarom jy hulp soek en beter wil optree, 'n beter mens te wil wees, want jou motiewe maak al die verskil in die wêreld.

Ondersoek dit, en as jy vind dat jou motiewe op enige ander plek, behalwe as op God se verheerliking gefokus is, nader tot Hom in die gebed en smeek Hom dat Hy so in jou hart sal werk en daardie motief in jou hart sal plant want,

"Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God. Die Here God is ons krag en ons beskerming, die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie. Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!" (Ps 84:11-13)

Ps 115

Hits: 1787
0

Posted by on in Christelike Lewens-Kwessies

Lees: Ps 73

In die verwelkoming en doel artikel het ons gepraat van 'n reis wat voorlê wat mense se lewens sal verander. Maar soos wat die geval maar is het 'n reis altyd 'n beginpunt, 'n middelste gedeelte (die reis self), en 'n eindbestemming. Nou die groot geheim, wanneer dit by die soort reis kom waarvan ons hier praat, is dat dit nie die omstandighede rondom jou beginpunt, of die omstandighede op die reis self is, wat bepaal waarheen jy oppad is nie. Dit is ook nie jou beginpunt wat bepaal hoe jy reageer op die probleme wat jy gedurende die reis sal teekom nie.

Natuurlik om te weet waar jy begin het is van uiterste belang(daarby sal ons nog later moet kom), maar dit is nie jou beginpunt wat uiteindelik die omstandighede, en jou hantering van daardie omstandighede, op die reis bepaal nie. Nee, uiteindelik is dit jou eindbestemming, of ek wil liewer sê, jou einddoel, wat bepaal hoe jy gaan reageer op die moeilike omstandighede en probleme wat jy op daardie reis in die gesig sal staar.

En nou weet ek baie van julle gaan nou dalk sê, "sjoe maar jy is negatief, 'die probleme wat ons in die gesig sal staar', sê jy? Dis nie 'n baie positiewe uitkyk op die lewe nie!" Wel, ek wil julle dan eers herinner dat ons nooit belowe word dat ons geen moeilike omstandighede en probleme op ons reis sal hê nie. Dit is nie net so dat daar geen sulke beloftes in die Woord is nie (inteendeel, sien Joh 16:33; Hand 14:22 ens), maar meer nog, ons sien so baiekeer om ons raak dat hulle wie juis verkeerd doen en die Here nie dien nie, lyk asof hulle reis soveel minder probleme inhou.

Dit is presies wat Asaf, die skrywer van Psalm 73, ondervind het. Lees bietjie wat sê hy daar "ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien. Hulle het geen kwellings nie, hulle is sterk en gesond, hulle het nie sorge soos ander mense nie, hulle het nie teëspoed soos ander nie."

Dit lyk asof Asaf deur 'n moeilike tyd in sy lewe gegaan het. Heel waarskynlik was hy siek, of het hy deur armoede gegaan en gely. Maar hy het na ander om hom gekyk, goddelose mense, en gesien dat dit dan goed gaan met hulle. Sy eerste reaksie was om te dink, "maar dit is onregverdig, ek dien dan die Here, ek probeer doen wat goed en reg is, ek is 'n gelowige, Sy kind, en tog kyk net hoe swaar kry ek en watter rampe tref my alles. Dis net nie reg nie, want met die goddeloses, trotsaards en lasteraars, gaan dit dan goed!"

"So wat het dit gehelp om die Here dan te dien, watter verskil maak dit?" Hy sê: "Dat ek die kwaad vermy het en met 'n eed my onskuld verklaar het, het dus niks gehelp nie, want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke nuwe môre straf." Asaf ly ernstig, hy voel depressief, kwaad, uitgestress, frustreerd en vasgevang in dit wat voel soos 'n onontkombare put van moedeloosheid.

Was jy al daar? Het jy nie ook al so gevoel nie? Dalk is jy op die oomblik op so plek in die reis van jou lewe?

Maar hoe kom mens uit daardie put uit?

Wel, dit is waar daardie eindbestemming, die einddoel, die verskil maak. En nee, moenie dink dat dit sommer maar net skielik beter gaan word, dat jy dan skielik rykdom en gesondheid gaan hê nie, dit is net nie so nie. Maar die manier waarop jy die swaarkry (en selfs lekker tye) in jou lewe hanteer en jou reaksie op daardie dinge in jou lewe, gaan drasties verander.

Kyk wat doen Asaf, kyk hoe hanteer hy die situasie waarin hy homself bevind. Hy het gaan sit en dink oor die saak, hy het eers probeer om 'positief' te raak, om darem iets goeds te probeer raaksien in al die dinge, maar dit was so moeilik en hy het nogsteeds gesukkel. Selfs al was daar dalk iets wat eintlik goed is kon hy dit nie raakgesien het nie, hy het in sy eie ooglede van wanhoop vasgekyk.

Selfs as hy sou probeer terugdink aan sy lewe wat agter hom lê, sy beginpunt, kon hy net niks goed sien nie, alles was net sleg vir hom, daar was niks goed nie. Asaf was in depressie vasgevang. Hy kon nie die uitweg sien nie.

Maar skielik was daar 'n lig, 'n lig wat eintlik nog altyd daar was, maar hy moes anders gekyk het om die lig te kan raaksien. Die manier waarop hy dit stel is dat hy in die heiligdom van God moes ingaan. Wat bedoel hy? Is hy opgeneem hemel toe of iets? Nee, in sy gebed is hy verlig deur die Heilige Gees sodat sy gedagtes kon vry word en hy 'n ewigheidsvisie voor oë kon kry. Sy oë is geopen om die uiteindelike bedoeling van God in al hierdie dinge te kon raaksien.

En die oomblik toe dit gebeur toe sien hy iets raak. Hierdie ouens op wie hy so jaloers was, wat al hierdie wonderlike gemak, sukses en rykdom het, loop op baie dun ys. Dit is alles tydelike goed wat binne 'n oogwink net verdwyn, terwyl dit wat hy, Asaf, het ewigheidswaarde het en nooit kan verdwyn of weggevat kan word nie.

Asaf erken self dat hy dom was, dat hy stupid was, soos 'n dier wat net gedink het aan wat hy nou het, net bekommerd was oor of sy maag nou vol is, of hy nou warm kry. Hy het net gedink aan sy tydelike gemak en geluk.

Maar deur die krag van die Heilige Gees is Asaf se gedagtes opgehef sodat hy kon sien dat, om in die Here se hande te wees, om Sy kind te wees, en om die vooruitsig op die ewigheid te hê, beter is as enigeiets wat die wêreld kan bring. Julle sien, die oomblik as ons so begin dink, so 'n ewigheidsvisie voor oë kry, dan sien ons ons swaarkry en probleme anders. Ons sien dan probleme as beproewinge, en lyding en swaarkry as geleenthede vir heiligmaking.

Dit is met daardie soort visie wat Paulus ook in Rom 8:28-29 geskryf het "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is."

Dit is die eindbestemming, die einddoel, om gelykvormig aan Christus te wees. Ja, ons heiligmaking is die wil van God vir ons (1 Tes 4:3) lewe. En watokal met ons gebeur, al ly ons ook hoe erg, al voel dit of jy nie meer kan nie en al lyk dit ook hoe donker en onontkombaar vir jou, onthou, kyk na die eindbestemming, die eindoel. Hou die vooruitsig van Christusgelykvormigheid voor oë, streef na die heiligmaking, kry daardie ewigheidsvisie voor oë.

Hou dan jou oë op daardie einddoel gevestig, maak dit jou eindbestemming, jou doel vir jou lewe (want dit is God se doel met jou lewe) en sien alles wat met jou gebeur deur daardie lens, en dan sal jy kan wees waar die apostel Jakobus (Jak 1:2-3) sê ons behoort te wees.

Ja, jy sal bly word oor al daardie beproewinge (probleme en swaarkry) in jou lewe, in plaas van onsteld en depressief. Want jy sal weet dat al daardie beproewinge jou na die beeld van Christus vorm sodat dit vir jou goed sal wees om naby God te wees, en jy die Here God as jou toevlug kan kies en van Sy groot werke sal bly vertel!

In die liefde van Christus, gegroet!

Jacques Prince

NS. As jy sukkel met swaarkry en lyding in jou lewe, kies elke dag een van hierdie gedeeltes en lees dit biddend en met diep oordenking: Hebreërs 12:3-17; Jakobus 1:1-18; Jakobus 5:7-12; 2 Korinthiërs 4:7-18; 1 Petrus 1:3-25; 1 Pet 4:12-19; Romeine 8:18-39; 2 Timotheus 3:10-17; Johannes 15:18-26; Psalm 73; Jy kan ook die boek van Job deurwerk in jou stiltetye. Jy is ook welkom om my te kontak vir verdere hulp.

Eternity

Hits: 1939
0