Christen Diens

Posted by on in Christen Diens

n Krieketwedstryd tussen twee klubs was aan die gang en die span wat gekolf het op daardie stadium, het baie goed gevorder. Die ander span het begin om regtig bekommerd te raak want die kolwers was besig om die lopies wat hulle op die bord gesit het vinnig in te haal. En so is dit hier in die 15de beurt van die 50 beurt wedstryd toe een van die kolwers uiteindelik n fout maak, hy slaan na die bal, maar sy tydsberekening is nie reg nie, en so tref die bal toe hoog op sy kolf en skiet reguit hoog in die lug op en begin terug te tuimel na die grond toe, in bereik van drie veldwerkers, waarvan een die paaltjiewagter is ook....

Maar in plaas daarvan dat een van hulle gaan vir die bal, staan hulle net almal doodstil en kyk hoe die bal afkom en op die grond neerval voor hulle voete. Natuurlik is die kaptein histeries en hy storm op die veldwerkers af, Wat gaan aan met julle? Waarom het julle nie vir die bal gegaan nie, het julle die bal nie gesien nie, was die son in julle oë of wat? Hulle al drie antwoord toe, nee, nee ons het die bal gesien, en die son is agter ons so nee die son was nie in ons oë nie.

Nou kan julle dink hoe hierdie kaptein daar staan en kook, en hy vra vir hulle: So wat dan, waarom gaan julle nie vir die bal nie, waarom vang julle nie die bal nie? Julle weet hoe desperaat nodig ons daardie paaltjie gehad het!

Wel, een van hulle antwoord die kaptein toe en sê ja nee ons weet ons het die paaltjie nodig, ons is in die moeilikheid, en ons is ook baie bekommerd dat ons gaan verloor. Maar kaptein, ek meen, as jy wou gehad het ek moet die bal vang, moes jy net persoonlik na my toe gekom het en my net gevra het om die bal te vang, dan sou ek dit met liefde gedoen het. Die ander twee staan ook daar en hulle wys dat hulle ten volle saamstem.

Die paaltjiewagter sê ook by “ja jinne kaptein, ek meen, ons is mense jy weet..... en dis maar net hoe mense is jy weet?! Ons wil maar persoonlik gevra word om iets te doen, ons wil darem ook gewys word dat ons persoonlik benodig word. Niemand van ons is ongewillig nie, ons is nie onredelike mense nie, en ons gee ook om vir die span, ons wil ook wen, ons is almal bekommerd dat ons hierdie wedstryd gaan verloor, so ek is seker daarvan as jy enige van die ouens gevra het, sou hulle die bal gevang het... ek sou, as jy my net gevra het.”

Dit som die situasie in die kerk so goed op. Daar word gevra dat mense moet kom help op ‘n funksie of met iets spesifiek in die kerk, die oproep word gedoen, dit word afgekondig, maar niemand kom nie. En dan, wanneer daar gevra word waarom niemand kom om te help nie, is dit presies wat gesê word, “elkeen wil maar persoonlik gevra word, dit is nou maar eenmaal hoe mense is. Niemand is ongewillig nie, ons is almal bekommerd oor die kerk, ons sien almal die nood raak. Ek is seker daarvan as jy persoonlik na mense toe gegaan het sou niemand geweier het nie.... ek sou nie, as jy my net persoonlik gevra het”.

Maar nou sal jy miskien sê dat dit is mos nou darem anders is in so ‘n krieketwedstryd, dat dit nie vergelyk kan word nie, want daardie ouens weet dit is hulle verantwoordelikheid, hulle is gekies vir daardie span, hulle weet dat hulle elkeen ‘n besondere verantwoordelikheid het.

Maar is dit regtig anders? Is jy dan nie spesifiek uitgekies vir die liggaam van Christus nie? Het jy nie persoonlik ‘n verantwoordelikheid vir die liggaam nie? Het jy nie spesifieke gawes wat jy moet gebruik tot die opbou van die liggaam nie?

Sien, dit is presies dieselfde as daardie krieketwedstryd, dit is presies hoe so baie Christene vandag redeneer, hoe mense dink en wat hulle sê. Die enigste verskil wat daar moontlik kan wees is dat daardie drie ouens ten minste op die veld gaan staan het. Hulle het ten minste daardie deel van hulle verantwoordelikheid nagekom, hulle het darem opgedaag, wat meer is as wat van meeste Christene gesê kan word, nie waar nie?

Ons wil mos net in die “peanutgallery” sit, in die paviljoene, en die spelers op die veld kritiseer (of erger, ons gaan nie eers op die paviljoen sit nie, ons sit by ons huise en doen dit). Wel ons kritiseer natuurlik ook die kaptein, veral hom nè! Ons kritiseer hom omdat hy nie die bal self gaan vang het nie, “ek meen is hy lui of iets, dis mos sy werk”!

Of ons kritiseer hom omdat hy nie ten minste een van die ander twee spelers, wat darem so gaaf was om op die veld te gaan staan, persoonlik, baie mooi, in liefde (ek meen as hy dit nie mooi doen nie dan gaan daai spelers mos ook net van die veld af hardloop, so die kaptein moet op eiers loop as hy dit doen) gaan vra het om dit te doen nie.

Dit is ongelukkig die situasie onder die Christene vandag, daar is bitter min wat met ware ywer hulleself aan die Here se diens en aan Sy kerk toewy. Die res sit net en kritiseer daardie paar mense en die ander daag nie eers op nie.

Mag die Here, in hierdie tyd veral, die harte van ons mense so verander dat hulle nie net gewillig sal wees nie, maar daarna sal smag om Hom te dien. Dat hulle hulleself sal toewy daartoe en, soos wat ‘n goeie krieketspeler met ywer na ‘n bal toe duik om hom te vang, hulle ook sal duik na elke geleentheid wat hulle gebied word om die Here te dien en iets vir Hom te doen.

Fil 3:12-14cf; Luk 9:23-27, 62; Luk 17:31-32; Op 2:10, 3:15-16; Mat 10:22, 25:14-30; Rom 12:11; Heb 6:10-11; 2 Tes 3:10-12; Pred 9:10; Spr 26:13-16, 18:9; 1 Tim 6:12; 2 Tim 4:7; 1 Kor 12:12-31; Ef 4:15-16

Cricket

In die liefde van Christus, gegroet!

Hits: 1923
0